top of page
  • Writer's pictureAnnien Botha

HOEKOM MOET EK ELKE DAG MOOI AANTREK?




Jare gelede, na ‘n vreeslike motorongeluk, waartydens my nek gebreek het en my rugmurg beskadig is, waardeur ek tydelik verlam was en toe weer van voor af moes leer loop, eet, skryf, tande borsel… het ek die volgende geskryf in ‘n blog:


Ek druk die wekker dood en bly lê. Staan dan traag in pyn op, trek ’n sweetpak oor my pajamas aan en kry die kinders gereed vir skool. Wanneer ek terugkeer huis toe en uiteindelik die dag in die oë staar, vra ek vir myself.


Vir wie of vir wat wil ek vandag op my beste lyk?

Mense sal dikwels antwoord: “Vir jouself!”- So dis nie meer om man te probeer vang nie. Of om ander se goedkeuring weg te dra nie. Maar net vir myself. Jy moet dieselfde aandag aan jouself kan gee as wat jy in ander areas van jou lewe insit.


Vir MY is dit seker selfs moeiliker as vir jou om elke dag op my beste te lyk. Want hoe ek VOEL is belangriker as hoe ek lyk. As ek tog net een dag sonder pyn kon opstaan! Ek voel dikwels soggens – vir wat moet ek mooi aantrek – ek is selfs nie lus vir stort nie. (Dit is deels natuurlik weens depressie omdat ek met pyn moet opstaan).


In die hospitaal kon ek my nie meer optof nie. Ek is gewas in die bed of was van ander afhanklik om my te help stort. My tande is VIR my geborsel, of soms sommer glad nie geborsel nie. Skielik het “om mooi te lyk” vir my geen nut meer gehad nie. Die eerste openbaring wat ek daar ontvang het, is:

‘n Mens se identiteit nie lê in jou gawes (of bates) nie want dit kan oornag van jou weggeneem word.


Het jy al die rykmanskinders se gespoggery met hulle klere of motors op sosiale media aanskou?

Wie jy is, word ongelukkig nie bepaal deur die klere wat jy dra of die kar waarmee jy ry nie. Ons dink dalk dat mooi klere of ’n nuwe haarstyl ons heel gaan laat voel.

Hierdie wêreld is van verbygaande aard.

Dit is net by God waar ons tevredenheid sal vind. Ons moet ons identiteit in Christus vind.


So hoekom kies ek my vleiendste kledingstuk uit die klerekas…saam met die mooiste bypassende juweelstuk? Ek motiveer myself hiermee…


JY VOEL BETER


Wanneer ek op my mooiste lyk, is ANDER se persepsies of reaksies teenoor my meer positief, en as gevolg hiervan, raak EK meer positief! Ek VOEL dan sommer beter. Ons vrouens is bevoorreg, want ons kan “maskers”elke dag opsit – ons kan grimering aanwend en ekstra mooi bykomstighede. Ons kan baie dinge verberg deur middel van ons klere en bykomstighede!

Dit is ‘n sielkundige beginsel dat jy stukke beter voel as jy jouself mooi aantrek en grimering aanwend voor jy die nuwe dag tegemoet gaan omdat ander dan meer positief teenoor jou optree.


Tog is daar die van julle wat julle naels laat doen of in ‘n nuwe rokkie uitdraf en manlief sien dit nie eers raak nie. Jy hoor selde ‘n kompliment.

So waarom moet jy dan mooi aantrek?


DOEN DIT VIR GOD


Dit beteken nie dat jy glad nie na jou gesondheid en voorkoms moet omsien nie.

Jou liggaam is God se tempel. Om jouself mooi te versorg, hom te aanbid en dien met jou liggaam, is jou offergawe aan Hom. Jy is nie ydel omdat jy mooi wil aantrek nie. Jy mag trots wees en MOET trots wees op jou voorkoms!


LIEF VIR JOUSELF EN SELFVERTROUE


Liefde vir jouself is belangrik. As jy nie dink jy is mooi nie gaan niemand anders so dink nie.


My ondervinding in skoonheidsterapie het my gewys dat baie mooi vrouens onseker van hulleself is, onnodig ’n negatiewe selfbeeld het en krities is op hul voorkoms.


Natuurlik moet jy nederig bly, maar indien jy die titel “kind van God” dra, kan jy daarom selfvertroue hê.

Ek is ‘n kind van die mees heiligste god. Ek weet en ek sê ek is mooi, want Hy het my mooi geskape. HY dink ek is mooi. Maak nie saak hoe ek lyk of wat ek het nie, ek kan nooit lelik voel as ek weet wie ek in of as gevolg van hom is nie.


Selfversorging en selfkennis kan enige vrou in ’n prinses verander.

Al wat jy moet doen, is om jou unieke bates te beklemtoon

Liesel Krause-Wiid


NIE TE LIEF VIR JOUSELF


Tog moet jy nie so behep raak met jou voorkoms raak dat jou wêreld in duie sal stort as dit dalk van jou weggeneem word nie. 'n Gesonde selfliefde is nie selfbehep, arrogant of selfgesentreerd nie. Moenie so lief word vir jouself dat jou voorkoms ’n obsessie word nie. Pasop vir enige iets wat "TE" is! Dalk is tieners so, maar wees versigtig vir té bewus raak van jou klere. ‘n Obsessie met jou gewig, voorkoms en klere is nie gesond nie en kan jou selfs in ‘n put van depressie laat sink.


VOORBEELD VIR JOU KINDERS


Nog ‘n belangrike rede hoekom ek mooi wil aantrek - ek trek aan vir my kinders! Om te hoor, “Mamma lyk moo-ooi”, is die soetste woorde!

Ek dra graag iets wat my kinders laat dink hulle’t ’n “cool” ma... en hang dikwels sommer ‘n speelse kinderketting om my nek, of hang pienk oorbelle aan die ore...net ter wille van my dogtertjie...


Jy as ma se voorbeeld vir jou dogter is belangrik.

Dink oor wat jy aantrek, want jou kind volg jou voorbeeld.

So dikwels kom ek uit my kamer gestap en vind my dogtertjie het ook blou gaan aantrek want ek het die oggend blou aan! Dit is dan ‘n groot kompliment vir my!

Of wanneer my dogter haar eie kleertjies met selfvertroue na my aandra in die winkel, en ek bekyk die kleertjies en besef... hierdie dogtertjie van my het styl - (my styl! :) (Al trek sy ook soms 'n mini aan omdat haar ma dan ene dra! :).

Laat jou kind sy of haar eie styl ontwikkel. Laat hulle gerus toe om hul eie uitrusting vir die dag te kies!

Ek lees juis van ‘n celeb wie se kind "so ’n mode voorlopertjie is." JY is die ene wat jou kind moet leer om nie homself of haarself met ander te vergelyk nie.


’n Kompliment van haar pappa oor haar pragtige styl kan die wêreld vir ’n dogtertjie beteken. Of al is julle as ouers geskei en jy sien jou dogtertjie nie so gereeld as wat jy wou nie, onthou, as sy weet sy’s jou prinses, kan dit wondere vir haar selfvertroue beteken.


WEES "JY"


Al volg jy die mode - of beter nog - al sorg jy dat jy elke seisoen ten minste een iets van die nuwe mode jou eie maak, hou in gedagte dat jy besonders is en jou uniekheid moet uitbeeld.

Jy moet nie jouself met ander vergelyk nie. Moenie iemand anders wil wees of probeer naboots nie! As jy iemand anders se droom probeer leef, beperk jy net jou eie potensiaal (en onderdruk God se krag in jou).


TREK ORDENTLIK AAN


Lyk jy "ordentlik?" Voel jy GEMAKLIK met jou uitrustings, en trots op jouself? Dink jy jou man, jou kinders, vriende, of mentors voel gemaklik daarmee en is ook trots op jou?

Ek onthou na die ongeluk, in die begin van my rehabilitasie tyd, die ongemaklike insident met my pa – hoe hy my gevra het "om my hipster denims op te trek omdat my "broeke altyd te laag sit"! As jy gedurig ’n rompie moet aftrek omdat jou bene te veel uitsteek, of jou toppie omdat jou magie uitsteek, of selfs ‘n langbroek moet optrek omdat jou onderklere uitsteek, moet dit klaar al vir jou ’n teken wees dat wat jy aanhet, nie gepas is nie.


KYK SOGGENS VIR JOUSELF IN DIE SPIEËL


Soveel dae verloop wat ek net mooi nooit na myself in die spieël kyk nie! Maak 'n gewoonte daarvan OM VIR JOUSELF IN DIE SPIEEL TE GLIMLAG! Wees lief vir die vrou in die spieel! Aanvaar komplimente met grasie, en glo dit. Die ander dag loop ek een van my skoolvriendinne raak, en sy sê, "Jy lyk MOOI!" Jy is altyd so GOED… VERSORG!" Dadelik het ek gedink, "Ja ja...take it from who it comes.." Maar toe besluit ek, ek gaan dit tog glo…

Sien, ‘n mens maak wel altyd 'n indruk op iemand...



Blogger - Annien Botha


As internasionaal gekwalifiseerde skoonheidskundige en huishoudkundige skryf Annien oor MODE, SKOONHEID en GESONDHEID (op alle terreine). In 2012 was sy betrokke in ‘n ernstige motorongeluk wat haar beroep as terapeut na 20 jaar beëindig het. Sy het egter besluit om te bly skryf en blog in haar skoonheids en nou ook mode beroep. Sy inspireer met haar eie gedagtes, dade en lewensverhaal sowel as die van mense rondom haar.

13 views0 comments

Comments


bottom of page